Geografie van Suid-Afrika

Ligging van Suid-Afrika in Suider-Afrika
Satellietbeeld van Suid-Afrika
Topografiese kaart van Suid-Afrika

Suid-Afrika beslaan die suidelike punt van Afrika, met 'n kuslyn van meer as 2 500 kilometer (1 600 myl). Dit strek suidwaarts van die woestyngrens met Namibië aan die Atlantiese oseaan (weskus), om die punt van Afrika en dan noordoos tot by die grens met Mosambiek aan die Indiese Oseaan. Die laagliggende kusstreek is smal vir 'n groot deel van daardie afstand, en dit verander na 'n bergagtige platorand (Groot Platorand) wat die kus skei van die hoë binnelandse plato. Op sommige plekke, veral in die provinsie van KwaZulu-Natal in die ooste, is die afstand tussen die kus en die platorand groter. Hoewel die meeste van die land as semi-droog geklassifiseer word, het dit 'n aansienlike variasie in klimaat sowel as topografie.

Die Suid-Afrikaanse sentrale plato bevat enkele groot riviere:

  • die Limpoporivier (waarvan 'n gedeelte ook aan Zimbabwe grens)
  • die Oranjerivier (met sy grootste sytak, die Vaalrivier) wat met 'n veranderlike vloei loop oor die sentrale landskap van oos na wes en uitmond in die Atlantiese Oseaan aan die Namibiese grens.

Die oostelike en suidelike kusgebiede word gedreineer deur talle korter riviere. Daar is baie min kusriviere langs die dorre weskus, noord van 31°30'S.

In so 'n droë land is damme en besproeiing uiters belangrik. Die grootste dam is die Gariep in die Oranjerivier.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search